​Die Pretoria huis met super styl en spasie

Johannes van Graan Johannes van Graan
House Fyfe, Swart & Associates Architects Swart & Associates Architects Modern dining room
Loading admin actions …

Dis mos altyd lekker om te kyk hoe ander mense se huise lyk – om te sien hoe groot hulle kombuise is, watse tipe banke hulle in die sitkamer het, en of hulle ingangsportaal regtig so netjies (of deurmekaar) soos joune is. 

Die huis wat ons vandag gaan bekyk is ontwerp deur die argitekte van Swart & Associates Architecture van Pretoria. Hierdie 621.7 m² skepping is die perfekte inspirasie vir dié van ons wat hou van baie spasie, baie styl, en slim maniere hoe om altwee te kombineer.

Kom ons spring weg en kyk watse wenke ons kan optel…

Wat ‘n aansig

Dis nou regtig nie elke huis wat so ‘n uitmuntende styl het nie, om nie eers van die grootte te praat nie. 

‘n Heerlike kombinasie van neutrale kleure en teksture verskaf fantastiese “detail” aan die voorkant – kyk net hoe mooi werk daardie klip teëls saam met die glas van die vensters/relings en die hout van die motorhuis deur. 

En hoe gereeld sien mens ‘n skepping wat jou met marmer trappe na die voordeur lei? 

Kyk bietjie hoe mooi tower daardie groot potplante die huis op met kleur en varsheid.

Die pragtige agterkant

Soos die meeste huise, geniet hierdie een se agterplaas ‘n baie meer oop styl en uitleg. En kyk net hóe oop en ruim lyk hierdie agterstoep met al die perfekte elemente: a houtdek, swembad, moderne meubels, uitstekende beligting en ‘n tuin wat jy deur ‘n ring kan trek. 

Die beton rame wat die swembad en dek omsingel herinner ons net weer aan die huis se grootte, maar voeg ook ‘n heel netjiese styl by wat perfek pas by die moderne huis.

‘n Kombuis om van te droom

Ons is nogal heel ingenome met die binnekant se styl, veral die kombuis, omdat dit ietsie anders is as wat ons aan die buitekant gesien het. Waar die voor- en agtererwe volop was van reguit lyne en harde hoeke, bied die kombuis ‘n meer sagte styl deur middel van die eiland se kurwes. 

Maar wat ons nou regtig uit die veld slaan is hoe pragtig daardie groot glasdeure oopmaak na die buitekant om ‘n vars uitsig te verseker. En natuurlik is hierdie perfek vir wanneer daar nou groot gekuier word met heelwat gaste.

‘n Tikkie meer formeel

Ons dink hierdie sitkamer is ewe perfek vir kuiers saam met vriende, asook vir meer formele sosialisering, soos saam met kollegas. Die neutrale kleure, net soos in die kombuis en aan die buitekant, versker ook ‘n elegante styl. 

En gepraat van die buitekant, kyk bietjie hoe sluip daardie groen tuin na binne deur middel van die tamaai vensters en glasdeure, kompleet asof die grasperk, swembad en al die ander tuin elemente deel is van die binnekant se versierings.

Die sjiek badkamer

Voordat ons vaarwel roep aan hierdie skepping, kyk ons eers vinnig na een van die private kamers van die huis: die badkamer. Natuurlik moet mens ewe stylvol wees wanneer dit kom by badkamers en slaapkamers se ontwerpe – net omdat dit nie oop en bloot vir gaste is nie beteken dit nie dit hoef nie mooi te lyk nie, of hoe? 

Gelukkig geniet hierdie badkamer ‘n pragtige en praktiese styl – al daardie kaste maak seker daar is oorgenoeg stoorplek vir allerhande dinge. En kyk hoe verseker daardie glaspaneel van die stort dat ‘n stukkie sonlig van buite af die binnekant besoek. 

‘n Heel ordentlike (en stylvolle) huis wat perfek kan werk vir ‘n groot familie, of hoe? 

Van Pretoria na Johannesburg, loer bietjie na Die Kloof Straat huis met ‘n treffende styl vir nog meer stylvolle wenke.

Sal hierdie huis vir jou en jou gesin kan werk?

Need help with your home project?
Get in touch!

Highlights from our magazine